Monday, 4 January 2016

Elemente van Verlang

Daardie kortstondige oomblik waarin ‘n waterdruppel die son vasvang en skielik oerelemente soos water en vuur vermeng.   En vir die duur van daardie val word die natuurwet opgeskort dat water vuur sal doof. 

Maar in die plof teen die teer bars die oomblik oop en elke materie keer eiesoortig terug tot waar water net water is en die son vuur voort in sy dagtog van oos na wes. 

As ek eerlik is, is dit net ‘n renerige, koel dag en die son probeer flouerig die treurige meisie opbeur.  Maar daar is ‘n boek gevul met die woorde van daardie meisiekind wat haar bevind waar sy nie grootgeword het nie en waar sy moeilik tuiskom teen die kus waar die seelug selfs lente stroop van enige soelheid of lafenis of rus. 

Daar is ‘n tonnel om te kruis, karoovlaktes, oorsteek van die Oranje en selfs die Vaal tot by die huis.  En die telefoniese gedruis van gesteelde Telkomlyne verdoof die klank van verlang en ons besig maar gemeenplasies van die weer, die kinders se skoolkonsert en die nuwe huurders vir die woonstel op die plot. 


Dat my ruimte al meer binnetoe sal glip en stadig, stadig plek sal word en dat my kinders dit eendag huis sal noem – die gebed op die prewelende lippe van die vreemdeling.  Daar is soms ‘n vreemdeling in elke huis.