Daardie kortstondige oomblik waarin ‘n
waterdruppel die son vasvang en skielik oerelemente soos water en vuur
vermeng. En vir die duur van daardie val word die
natuurwet opgeskort dat water vuur sal doof.
Maar in die plof teen die teer bars die
oomblik oop en elke materie keer eiesoortig terug tot waar water net water
is en die son vuur voort in sy dagtog van oos na wes.
As ek eerlik is, is dit net ‘n
renerige, koel dag en die son probeer flouerig die treurige meisie
opbeur. Maar daar is ‘n boek gevul met die woorde van daardie
meisiekind wat haar bevind waar sy nie grootgeword het nie en waar sy moeilik
tuiskom teen die kus waar die seelug selfs lente stroop van
enige soelheid of lafenis of rus.
Daar is ‘n tonnel om te kruis,
karoovlaktes, oorsteek van die Oranje en selfs die Vaal
tot by die huis. En die telefoniese gedruis van gesteelde Telkomlyne
verdoof die klank van verlang en ons besig maar gemeenplasies van die weer, die
kinders se skoolkonsert en die nuwe huurders vir die woonstel op die
plot.
Dat my ruimte al meer binnetoe sal glip en
stadig, stadig plek sal word en dat my kinders dit eendag huis sal noem – die
gebed op die prewelende lippe van die vreemdeling. Daar is soms ‘n
vreemdeling in elke huis.